Oorwin die kwaad deur die goeie

Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. (Romeine 12:21)

Buite-Bybelse getuienis oor die vervolging van Christene in Rome wys dat hierdie vervolging baie wreed was.

Sommige Christene is met teer besmeer, aan pale vasgebind en aan die brand gesteek. Ander is vir die vermaak van die burgers van Rome saam met wilde diere in ’n arena gegooi. Een geval is bekend waar ’n jong Christen vrou op ’n bul vasgemaak en tussen wilde diere ingejaag is.

Dit mag soms vir ons voel asof ons op die oomblik vervolg word. Ons word daagliks blootgestel aan koerantopskrifte, radio en sosiale media aan die wetteloosheid en moord & doodslag in ons pragtige land. Baie van ons “share” dan hierdie berigte met ons vriende op FB wat dit dalk nog nie gesien het nie. Dit is amper asof ons lekker kry deur dit te doen. My vraag is of ons dan doen wat Paulus sê ons moet doen. Is ons op dié manier besig om die kwaad deur die goeie te oorwin.

Paulus skryf ‘n paar verse vroeër in vers 17 dat ons nie kwaad met kwaad moet vergeld nie en goedgesind teenoor alle mense moet wees. Natuurlik is dit vrek moeilik om dit te doen terwyl ons land aan die brand is. Maar dit is wat God van ons verwag. Daar is nie ‘n ander manier nie.

Die lewens van Christene moet veral in hierdie dae gekenmerk word deur weldade in ons verhoudings met almal rondom ons. Wanneer almal om ons vriendelik en gaaf teenoor ons is, is ons ook vriendelik en gaaf. Wanneer mense om ons onbeleefd en aanvallend teenoor ons optree, is ons vriendelik en gaaf. Wanneer van ons gesteel word is ons vriendelik en gaaf. Daar is nie vir ons uitkomkans nie. Waarom dan nie? Omdat ons in die beeld van ‘n baie goeie God gemaak is. Ons verteenwoordig Hom … ook vir wanneer ons nié lus het om dit te doen nie.

Bid saam met my
Hemelse Vader. Lei my deur u Heilige Gees wat in my is om ALTYD die kwaad deur die goeie te oorwin.
Amen.