Daaglikse oorlewing vra spanwerk …

Ons het die voorreg gehad om verlede week die Craven Week vir o/18 in Kearsney net buite Durban by te woon. Die jong Manne van WP het verdienstelik die nie-amptelike finaal teen die Goue Leeus gewen met uitmuntende samespel.

Dit was fantasties om te sien hoe hakers ingooi by ‘n lynstaan, een van die voorspelers hoog die lug in rank, die bal vang, vir die skrumskakel gee wat dit vir die agterlyn stuur waarna iemand oorduik vir ‘n drie. Maar, ek het ook gesien hoe ouens kies om nié saam te speel nie. Daardie spanne het dikwels verloor omdat iemand in die span dink hy kan álles alleen doen. Dinge loop ook skeef wanneer iemand nié sy kant bring nie.

Dit het my baie laat dink aan wat Paulus in 1 Korintiërs 12 skryf oor die geloofsgemeenskap as een liggaam met baie lede. Almal kan nie alles wees nie. Ek hou nogal van Paulus se beredenering in vers 21-22: “21Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek kan sonder jou klaarkom” nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: “Ek kan sonder julle klaarkom” 22Om die waarheid te sê, juis daardie liggaamsdele wat vir ons onbelangrik lyk, is des te meer noodsaaklik.” Niemand is onbelangrik nie en elkeen is deel van die span.

Net soos geen rugbyspan sonder enige van sy 15 spelers behoorlik kan funksioneer nie, netso kan die geloofsgemeenskap nie behoorlik funksioneer as elkeen nie sy en haar kant bring nie. Kyk maar hoe kruppel spanne is wanneer aan van die spanlede met ‘n geelkaart af is. Die kerk is té dikwels kruppel omdat mense nie kán of wíl saamwerk nie en ook wanneer elkeen nie sy of haar kant bring nie. Ons is dan mank en funksioneer nie soos ons bedoel is om te funksioneer nie. Nie almal van ons kan oog of hand of voet wees nie. En om te dink mens sien nie eers die hart nie en tog is daar groot probleme as hierdie orgaan wat nie van buite gesien kan word nie, siek is. Het jy geweet dat dit so te sê onmoontlik is om te loop sonder tone? Klein maar onvervangbaar.

Dink vir ‘n oomblik weer oor jou betrokkenheid in jou plaaslike gemeente. Hoe betroubaar is jy of woon jy net Eredienste by en dis al? Die ander lede het jou nodig. Onthou net, in ons geloofslewe is daar nie toeskouers nie – almal is op die veld. En ons doen dit nie vir erkenning en om dankie gesê te word nie.

O ja, en ons staan nie langs die veld en kritiseer en vinger wys nie. Streng gesproke het niemand wat langs die veld staan ‘n sê of opinie nie. Raak betrokke en bring jou kant, of jy nou oog, oor, wenkbroue of vingernael is, dit maak nie saak nie.

My optrede of gebrek aan optrede is dikwels die beantwoording of nie-beantwoording van iemand se gebede.

Bid saam met my
Here Jesus. Ons wil vandag ons geloofsgemeenskap aan U opdra. Daar is soveel kritiek van mense wat op die kantlyn staan omdat hulle dalk iewers seergekry het. Vader, gebruik asseblief vir elkeen wat hier lees om van binne, op die veld, ‘n verskil te maak.
Amen.