Hoogmoedig oor nederigheid

Ek het vroeër hierdie jaar hierdie prentjie op my rekenaar afgelaai … wou graag iets daaroor skryf. Dit het my daarop gewys dat daar soveel mense is wat floreer op die goedkeuring en “likes” van ander mense.

Nou die ander dag hoor ek van ‘n wedywering tussen twee ma’s om te sien wie se foto die meeste likes gekry het van hulle kinders na die skool se prysuitdeling. Kan jy dit glo?!

Ek onthou toe ook van iemand wat verlede jaar ‘n selfie van hom op Facebook gesit het waar hy vir ‘n hawelose persoon ‘n ete by ‘n plek koop. Dit was oral op Facebook, koerante en ander sosiale media oor hoe fantasties dit is dat hierdie persoon ‘n ete vir ‘n hawelose koop. Dit was net Facebook “likes”, duime op en “shares” net waar jy kyk. Almal het hierdie weldoener se lof besing. In my agterkop het ek gewonder of hyself dit nie maar ook gedoen het nie.
Al hierdie goed het my laat dink aan wat Jesus in Matteus 6:2-4 tydens sy bergpredikasie gepreek het: “As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.

Gaan dit oor die ander persoon wat ons gehelp het of gaan dit oor ons eie eer en hoe fantasties ons is dat ons help? As Christene loop ons altyd die risiko dat dit kan lyk of ons vir die erkenning van die skare speel. Dit is maklik om met gemengde motiewe te gee, om iets vir ’n ander te doen as jyself daarby kan baat. Dit is soos mense wat iets vir iemand doen net om dankie voor gesê te word. Wanneer jy vir hulle dankie sê vir die of daai ding wat hulle gedoen het, sal hulle gewoonlik antwoord dat dit regtig niks is nie. Maar, laat nou net na om vir hulle dankie te sê, dan is dit oorlog oor hoe ondankbaar jy is en wie weet nog wat alles.

Dit was CJ Langenhoven wat gesê het: “Om van my hoogmoed ontslae te raak het ek nederigheid aangekweek, en daarop hoogmoedig geword.” Dit het my nogal laat dink oor hoe maklik dit vir enigiemand is om op sy nederigheid hoogmoedig te raak. Mac Davis se liedjie van die 1960’s het ook by my opgekom … “Oh Lord it’s hard to be humble …”

Kom ons gaan verander die wêreld deur nederig te wees.

Gebed
Hemelse Vader. Ek wil U dien in hierdie wêreld deur nederigheid. Amen.


Print   Email