Moenie dat die voete van jou geloof gly nie ...

Vandag se inspirasie

“God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is” (Psalm 73:1). Dis amper asof die Psalm wil sê dat alles goed gaan met God se mense. Die antwoord op die lewe is maklik ... bly na aan God en dit sal met jou goed gaan.

“Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien”, skryf Asaf verder in vers 2. Die Nuwe Lewende Vertaling sê: “Maar my voet het byna gestruikel. Ek het my vastrapplek byna verloor”. Asaf het na die goddeloses om hom gekyk en gesien dat dit met hulle beter gaan as met dié wat die Here dien en lewe volgens sy wil. Hulle is voorspoedig in alles wat hulle aanpak ... dit gaan met hulle beter as met ons.
Ek onthou so duidelik hoe ‘n suksesvolle sakeman oor die radio op die Donderdag voor Paasnaweek gesê het dat hy bang is om Christen te word uit vrees daarvoor dat dit met hom dan sal sleg gaan. Hy was juis besig om kospakkies by christen-gesinne af te laai. Ek het dadelik gedink aan hoeveel ongelowiges met wie dit baie goed gaan en ook gedink aan christene wat ek persoonlik ken, met wie dit verskriklik sleg gaan.
Asaf skryf verder dat sy kop geswaai het nadat hy ‘n ontmoeting met God gehad het ... hy skryf nie oor die ontmoeting self nie behalwe dat dit sy manier van dink verander het. Hy onthou dat God nog altyd by hom was (vers 23) en al is hy afgetakel na liggaam en gees, God sy sterkte is.

Asaf sluit die Psalm af met vers 28 in hierdie woorde: “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel.”
Asaf het te midde van uitdagende omstandighede ‘n keuse gemaak … hy het God gekies as sy toevlug en om nie stil te bly oor die dinge wat God al vir hom gedoen het nie.
Ons elkeen het iets om te vertel … goeie dinge wat Hy al vir ons gedoen het. Kom ons kies vandag om eerder die goeie dinge te onthou as te tob oor die goed wat ons dalk nie het nie. Kies vandag nog!

Gaan lees gerus Psalm 73

Gebed
Hemelse Vader. Ek erken dat ek so maklik mislei word deur ander om my se suksesse en sien dan net my eie swaarkry en tekortkominge. Soos Asaf, het dit my ook amper laat twyfel. Maar, ek wéét dat U nog altyd by my was ... in moeilike en maklike tye. Ek kies vandag om by U alleen te skuil en om nooit stil te bly oor die wonderlike dinge wat U al vir my gedoen het nie.
Amen


Print   Email