Verwagtinge ...

'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak ’n mens mismoedig; 'n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe. (Spreuke 13:12)


... maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. (Jesaja 40:31)

Om moedeloos te raak is makliker as die spreekwoordelike val uit 'n boom. Dis geen kuns om moedeloos te raak nie. En soms is die grens tussen baie moed en geen moed net een teleurstelling. Nadat hy na sekere oorwinnings van Britse soldate oor die Franse gekyk het, het die Hertog van Wellington die volgende opmerking oor sy "navorsing" gemaak: "Die Britse soldate is nie dapperder as die Franse soldate nie, hulle is net vir 5 minute langer dapper."
Ek wonder hoeveel ekself al opgegee het op iets wat 'n ander uitslag sou oplewer as ek net nog 5 minute uitgehou het. Die Wright-Broers het nie na hulle eerste onsuksesvolle vliegpoging opgehou probeer nie! Hulle het aanhou probeer. Daar word gesê dat hulle meer as 100 probeerslae gehad het voor die eerste "vlug" van net oor die 100m.
Kom ons maak vandag die keuse om met meer hoop te leef. God is mos ons Hoop. En natuurlik is dit nie elke dag ewe maklik nie. Ek weet jy sal vir my kan terugsê dat ek nie jou omstandighede en redes vir jou moedeloosheid ken nie ... en dis waar. Maar, "Want met U loop ek ’n bende storm, met my God spring ek oor ’n muur (2 Samuel 22:30)". Hou net 5 minute langer uit, soos die Britse soldate. As jy dit nie vir jouself wil doen nie, doen dit dan vir jou geliefdes, die mense om jou.

Bid saam met my
Hemelse Vader. Ek bind vanoggend vir elkeen wat hier lees, iemand wie se doen en late U baie goed bekend is. Die Psalmskrywer verwoord dit so goed in Psalm 139 waar hy skryf: "Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. 2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. 3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend." Netso is U goed bekend met Deon se pad op hierdie oomblik wat dalk naby aan opgee is. Ag Here, ek bid en smeek dat U asseblief dat u hierdie leser se hulpkreet sal hoor en antwoord. Ek dank U solank hiervoor in die wonderlike Naam van ons Koning Jesus Christus, die eerste een wat uit die dood opgestaan het en heer oor al die Konings van die aarde.
Amen

 


Print   Email